Wat is die Klipspringer

WERKING

Die Klipspringer word vervaardig deur die laaikas, soortgelyk aan 'n kampwa, op 'n basisraam te monteer, en dan toe te rus met beenrame voor en agter in plaas van met 'n as en wiele. Deur hierdie beenrame af te swaai kan die Klipspringer enige plek vinnig van die voertuig afgelaai word en net so vinnig weer teruggeplaas word.

Klipspringer roro camper packed up

Die ontwerp is gebaseer op die 'ROLL ON, ROLL OFF' werkswyse en die Klipspringer is dus toegerus met 'n aantal rollers onderaan die basisraam . Nadat die agterste beenraam afgeswaai is, word die bene uitgedraai totdat die Klipspringer van die bak lig, waarna die voertuig vorentoe ry. Die Klipspringer bly staties deurdat die rollers toelaat dat die voertuig onderdeur kan uitry sonder dat die Klipspringer beweeg. Sodra die agterste rand van die [voertuig]bak onder die voorste beenraam verby beweeg, swaai laasgenoemde na die vertikale staan-posisie en kan dan uitgedraai word om die Klipspringer heeltemal van die bak te lig sodat die voertuig vrygestel word.

'n Verdere baie belangrike ontwerpvereiste was dat die eenheid botstil moet staan wanneer dit as basis vir 'n bed gebruik word sodat daar geen beweging of wiegaksie is wanneer iemand omrol nie. Dit is 'n heelwat moeiliker taak as wat mens sou dink, maar 'n toets wat die Klipspringer uitstekend in slaag.

SPESIFIKASIES

Afmetings en pakruimte

Omdat die Klipspringer dieselfde breedte as jou voertuig is, dit wil sê ongeveer 1,6m, in teenstelling met die tipiese kampwa, wat dikwels net 'n meter breed is, asook die feit dat die Klipspringer agter verby die bak van die voertuig strek, bied dit 'n besonder groot volume vir die installering en pak van toerusting.

Toegang

Die Klipspringer het altesaam 9 deure wat meebring dat toegang tot toerusting en bagasie uiters gerieflik is. Selfs wanneer dit op die voertuig is, is dit besonder maklik om by die meeste items uit te kom.

Gewig

Die basiese eenheid weeg sowat 250kg en dit kan met gemak met 'n verdere 500kg gelaai word vir 'n algemene perk van 750kg. Die beperking word bepaal deur die dravermoë van die voertuig, wat in die geval van dubbelkajuitbakkies vanaf 750kg tot 1000kg is. Indien 750kg swaar klink, hou in gedagte dat meeste kampwaens enigiets van 400kg tot oor 1000kg weeg – met slegs basiese toerusting. Versterkings van die voertuig se vering word aanbeveel, maar dit is 'n stap wat meeste voertuig eienaars in elk geval doen vir redes wat verband hou met beter padhouvermoë onder vrag of om beter vering / traksie in tipiese veldry-omstandighede te gee. Dit is bekend dat bladvere 'n swaarder vrag as kronkelvere kan dra en terwyl feitlik alle bakkies met bladvere as agtervering toegerus word, is hierdie voertuie by uitstek geskik om die Klipspringer te dra.

Beskerming van toerusting, koffers, proviand

Aangesien die Klipspringer op die voertuig rus, geniet die inhoud die voordeel van die langer -en dus sagter- vering versus die van 'n korter sleepwa, en is dit minder blootgestel aan die skokke, stampe en vibrasies, wat erg nadelig is vir items soos vrieskaste. Uiteraard bly ander toerusting ook langer in 'n goeie toestand.

Kwaliteit

Ronnie Wamback is 'n direkteur van die vervaardiger, RORO CARGO EQUIPMENT CC en 'n meganiese ontwerp-ingenieur met jare se ervaring by 'n maatskappy wat spesialiseer in die ontwikkeling en vervaardiging van militêre toerusting. Hy is ook 'n CAD spesialis en die Klipspringer is volledig op die elektroniese tekenbord geskep.

Met sodanige agtergrond is dit te verwagte dat die Klipspringer ontwerp is met besondere aandag aan die mees praktiese gebruik, duursaamheid en kwaliteit. Die CAD ontwerp sorg dat alle onderdele akkuraat vervaardig word om presies te pas, wat behalwe vir sterkte, ook bydra tot die netjiese afgewerkte voorkoms.  Die beenrame se onderdele is óf gegalvaniseerd óf ge-elektroplateer, terwyl nog ander dele van vlekvrye staal vervaardig word. Al die deure, die dak en vloer is van aluminium.  Die laaikas word van 3CR12 staal vervaardig en dan onder druk met sand skoongeblaas. en dan met hoë kwaliteit verf gespuitverf.  Omdat die Klipspringer van verskeie kante deur die voertuig se bak beskerm word, is daar in elk geval geen blootstelling aan klippe, ens. nie.

Die voertuigraam

Die Klipspringer word aan die voertuig se bak vasgebout deur middel van 'n gegalvaniseerde staal raam wat permanent aan die voertuig bly (maar maklik verwyder kan word) en wat terselfdertyd ook dien om die Klipspringerse voorkant tydens die oplaai te sentreer sodat dit in die vassluit-posisie te ruste kan kom.

Dieselfde raam kan met plaat bekis word, waardeur twee baie handige en ruim sluitbare kiste geskep word veral vir items wat mens altyd by 'n veldvoertuig wil hou, bv. sleeptou, kompressor, gereedskap, ensovoorts. Dit kan ook dien as bergplek vir ekstra brandstof of water.

Ons naam

Hoekom Klipspringer ? Net soos die Klipspringer boksoort ‘n mens beindruk met hul verbasende vermoë om vinnig en sonder uitermate inspanning teen kranse op te hardloop, en weer net so gemaklik van hoë rotslyste na benede te spring om sekuur op al vier pote te land, doen die Klipspringer dit na deur met ewe min moeite van die grond tot op die bak en weer terug te skuif.